DZL se voete is stewig op moeder aarde

FOTO: Verskaf

Hulle lewens mag dalk vir ander baie glansryk en opwindend lyk met gereelde projekte wat hulle regoor die wêreld vat, maar Suid-Afrika se aantreklikste sangduo se voete is stewig op moeder aarde. DZL, wat bestaan uit Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie, het pas hulle nuwe enkelsnit Waarvoor ek staan, bekendgestel wat veral op hierdie tema sinspeel. 

Luister hier na ’n voorskou

Die enkelsnit is uit die pen van ervare skrywer, Rouxan Cloete, wat ook vir baie van die snitte op DZL se Realiteit album verantwoordelik is. Die lied herhinner die luisteraar waarom dit belangrik is om te onthou waar jy vandaan kom.

“Die meeste van ons het dalk ’n klein begin gehad of gedurende ’n tydperk in ons lewens deur moeilike tye gegaan. Dit is hierdie ondervindinge wat ons ’n sterker karakter gee, ons persoonlikheid vorm en ook dankbaar maak vir dit wat ons nou het. Onthou waar jy vandaan kom, maar moet nie vergeet waarheen jy op pad is nie,” verduidelik Wiaan.

Die enkelsnit vertel van ’n sanger se lewe wat maar meestal op die pad na die volgende dorp gespandeer word. Op hierdie reistog ontmoet hy verskillende mense en ondervind ook baie ervarings. Party is goed en ander sleg, maar op die ou end is dit deel van die lewensreis. 

“As sangers het ons al soveel wonderlike ondervindinge gehad en party van so aard dat dit jou asem wegslaan. Ek dink die feit dat mens op die verhoog is en baie keer op ’n troontjie geplaas word, kan jou soms ’n groot kop gee, maar vir ons is dit belangrik om nie te vergeet wie en wat ons is nie, om nederig te bly en nooit voor te gee nie,” sê Andries.

As hulle nie op ’n verhoog is nie, spandeer die manne baie van hulle tyd in die bos met natuurbewaringsprojekte.

“Dit is waar ons die gelukkigste is en deesdae is ons geseënd om selfs ons sang en natuurbewaring te kombineer. Baie van ons projekte gee ons ook die geleentheid om die publiek en ons aanhangers meer van die natuur en bewaring te leer en dit is ook hier waar hulle werklik ons passie en liefde vir ons land kan ervaar,” verduidelik Andries.