FOTO: Verskaf
Die gunsteling nuweling in die Afrikaanse musiek industrie, Rita-Li van Centurion (Pretoria), is terug met ’n splinternuwe enkelsnit nadat haar debuut vrystelling Logiese Liefde al reeds verskeie bewonderaars se harte gewen het. Maar nou met haar nuwe enkelsnit My Eerste, My Laaste, kan almal verwag om nog meer van haar as ooit te hoor, en met
baie goeie rede…
My Eerste, My Laaste is spesiaal vir Rita-Li geskryf deur die koning van liedjieskrywers in Suid-Afrika, Johan Oberholzer, wat sorg dat verskeie van die grootste name in die bedryf met treffer na treffer kan spog. Van hierdie kunstenaars strek vanaf Bobby van Jaarsveld tot Tarryn Lamb, asook verskeie ander wat keer op keer op die trefferlyste verskyn.
Rita-Li vertel opgewonde: “Ek het besef, en was al lankal bewus daarvan, dat Johan een van die integrale elemente in die bedryf is wie met sy ongelooflike talent dit regkry om mense keer op keer te betower wanneer sy melodieë en lirieke hul pad na almal se harte vind. Daarom het ek op ’n dag besluit om die dapper stap te neem en het die telefoon opgetel om hom te vra vir hulp. Binne ’n dag het hy ’n weergawe van My Eerste, My Laaste vir my gestuur en ek was dadelik oortuig dat dit ’n treffer gaan wees.”
Soos Rita-Li bevestig: “My reaksie was net wow, wow, wow! Die liedjie het perfek by my gepas en ook die storie wat ek reeds begin vertel het met my EP, Inkleurboek.”
So waaroor gaan My Eerste, My Laaste, soos Rita-Li dit self interpreteer? “Ek dink die lied is geskryf vir die persoon wie al só lank na iemand in sy of haar lewe soek en eers deur die seer van die lewe moes werk voor hy of sy hul groot liefde kon ontmoet. Maar vir my persoonlik is dit ook ’n uitbeelding van die Rita Li droom – wat deur my eie man, Paul, ongelooflik ondersteun word.
“Die lirieke sê ‘hier’s ons nou’ wat regtig soveel fasette in my lewensreis opsom, insluitende my persoonlike lewe en sangloopbaan. Daar kan ook ’n dieper betekenis gevind word in die woorde en kan jy God se hard hierin sien – Hy kies ons as Sy ‘eerste en laaste’, en Hy wag vir ons en is daar vir ons ten alle tye,” vertel sy.
Daarom vertel sy dat die boodskap agter die liedjie verseker dat “ware liefde bestaan, selfs vir diegene wie lank moes wag daarvoor,” as ook “wanneer jy dan uiteindelik die persoon ontmoet, jou binneste wil bars met geluk en vreugde”.
Rita-Li is net so opgewonde oor die musiekvideo wat hul vir My Eerste, My Laaste opgeneem het (deur Christiaan Wolf – ‘n ander groot naam in die bedryf), waarin sy vir die eerste keer in 20 jaar weer self haar dansskoene aangetrek het. Die opname daarvan was vir Rita Li ’n “absolute fees”.
Kyk die musiekvideo: