FOTO: Verskaf
Die geliefde sanger en musikant, Joshua na die Reën het vroeg in 2019 die eerste enkelsnit vir sy album, Someraarde, getiteld, Soos in nou vrygestel en aanhangers en radiostasies kon nie genoeg kry nie. Dié liedjie het binne weke die Nommer 1 posissie op trefferparades van radiostasies landswyd ingeneem. Kort daarna het hy die album vrygestel wat ook onmiddellik die Nommer 1 posissie op die SA iTunes Trefferparade vir verkope ingeneem het!
Nou, gedurende Julie 2019 stel hy sy tweede enkelsnit, Soos die wind aan radiostasies landswyd bekend.
Die musikant, wat bekend is vir sy rustige fluweelstem, het sy nuutste album self vervaardig. Hy het baie moeite gedoen om die mooiste melodieë en lirieke soomloos te verweef met ’n interessante kombinasie van kontemporêre- en pop-klanke om ’n baie treffende eindresultaat te verseker.
LEES OOK: Joshua na die Reën se ouboet inspireer titel van nuwe album
“Ek het baie geleer tydens die opnameproses. Op hierdie reis het ek mense ontmoet wat soveel meer ingeploeg het as wat van hulle verwag is… Ewald Jansen van Rensburg het die vermenging van klank gedoen en dit was een van die samewerkings in my lewe wat werklik geen moeite was nie, want dis lekker as jy mense so kan vertrou. Andy Maritz het die dromvervaardiging gedoen en ek sê baie keer vir hom dat hy die album gered het,” sê hy.
Elf oorspronklike snitte, waarvan een (Vlieërs) ’n duet is met die opkomende ster Liani Reynolds, neem aanhangers op reis deur die verskillende emosies van menswees en beloof om hulle aandag van begin tot einde gevange te hou en direk met die siel te praat. Die radioweergawe van die treffer, Soos In Nou verskyn ook as bonussnit op die album.
Hy bekoor luisteraars reeds sedert die vrystelling van sy debuutalbum, Joshua na die Reën, in 2014. Sedertdien het hy al verskeie musiektoekennings, waaronder verskeie Ghoema-musiektoekennings (Joshua na die Reën), ’n Huisgenoot Tempo-toekenning, ’n SAMA-toekenning (Die Wêreld Binne My) en ’n Woordfees-toekenning ingepalm en temaliedjies vir verskeie flieks – Vir Altyd (vir die lokettreffer met dieselfde naam) en Voshaarnooi (vir die lokettrefferBallade vir ’n Enkeling), televisieprogramme en –veldtogte geskep.
Buiten vir Huisgenoot Skouspel en Gospel is Groot, het dié veelsydige ster ook al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Die Heuwels Fantasties en nog vele ander gedeel.
Met Someraarde se noukeurige samestelling en sielvolle inhoud, voldoen hy nie net aan sy nuutste doelwit nie, maar verstewig hy ook sy plek as musikant in die bedryf. Sy nuutste vrystelling sal sommer blitsvinnig in luisteraars se harte te kruip en is ’n aanwins vir enige albumversameling.