FOTO: Fathom Media
Skaars ’n jaar na die vrystelling van ’n suksesvolle debuut-album en twee radiotreffers, is Mariska terug met ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, Van vooraf begin, wat net weereens bevestig hoeveel talent sy het om met die wêreld te deel.
Hierdie opgewekte kontemporêre snit kombineer pop- en country-elemente om ’n vars en opwindende voetstamplekker klank te verseker en die sangeres se stroopsoet stem perfek te komplementeer. Die liedjie, wat deur Vaughan en Nerine Gardiner geskep is, gaan oor ’n meisie wat dagdroom oor goeie tye saam met haar geliefde en wens dat sy hierdie romantiese oomblikke weer van vooraf kan herleef.
“Van vooraf begin gaan oor die liefde tussen twee mense en herinner jou dat die liefde steeds bestaan en dat dit oukei is om daarin te glo,” verduidelik sy. “Ek kon van die begin af myself in die storielyn inleef en geniet dit om musiek te sing wat in my kop kom vassteek. Die liedjie het ’n lekker kommersiële ritme, wat jou uitnooi om saam te sing, en ek glo dat oud en jonk dit sal geniet.”
Die idee vir die musiekvideo van dié enkelsnit is geïnspireer deur Hailee Steinfeld se Capital Letters en die Hilary Duff-fliek, A Cinderella Story. Dit is deur Fathom Media verfilm by ’n perdeplaas, Zonnehoeve Equestrian Estate in Ruimsig, asook in Constantia Kloof en die stilering is deur Image by Suna en nichA Clothing behartig. “Ek wil nie te veel inligting oor die video weggee nie, maar ek kon myself inleef in die storielyn en het dit baie geniet om dit te skiet,” sê die sangeres.
Van vooraf begin is die derde enkelsnitvrystelling vanaf haar debuut-album Dankie. Die album, wat hoofsaaklik oor die verskillende fasette van die liefde gaan, het ’n kontemporêre popklank en is die resultaat van ses jaar se harde werk. Dit spog met twaalf oorspronklike treffers, uit die penne van bekende liriekeskrywers soos Vaughan Gardiner, Johan Oberholzer en Rudi Claase, wat wissel tussen opgewekte lekkerluisterdeuntjies en dieper hartsmusiek met ’n meer klassieke aanslag.
Die titelsnit, wat deur Johan Oberholzer geskryf is, is ongelooflik goed ontvang en het die nommer een-posisie op Bosveld Stereo se Top 20-treffersparade bereik. Dit spog met ’n lekker ritme en betekenisvolle lirieke en gaan daaroor om dankbaar te leef.
Mariska het op ’n plaas net buite Hoedspruit grootgeword en is reeds vandat sy vyf jaar oud is in vervoering met klassieke musiek. Sy het begin met sanglesse toe sy in graad 1 was en het daarna ook vinnig instrumente soos die klavier, viool en klawerbord bemeester, waarvoor sy ’n hele string toekennings verwerf het by die Eisteddfod in haar matriekjaar. Die ster spog ook met ’n BMus (Hons)-musiekkwalifikasie in Musiekoptrede van The Campus Of Performing Arts (JHB).
Op sewentien het sy haar eie demo-album, Optelmeisiekind, uitgereik met ses-en-dertig Afrikaanse en Engelse snitte. Dit het gelei tot die vrystelling van twee musiekvideos in 2011, Reënboog Hart en Alles Vir Liefde – ’n duet met Rian Ungerer wat ook gekies is om Afrika te verteenwoordig in ’n Eurovision musiekvideokompetisie. Laasgenoemde maak ook deel uit van Select Musiek se album- en DVD-samestelling, Ons Sing Duet.
Soet Soos Suiker, haar heel eerste amptelike enkelsnit, is baie goed ontvang en kan vandag nog oor die radio gehoor word. Die musiekvideo, wat deur Hartiwood Films (Liefling – Die Movie, Pretville) vervaardig is en onderwatertonele insluit, het baie aandag getrek en vir haar ’n kuier op die musiekprogram, DKNT, besorg. As gevolg van ’n knap bemarkingsveldtog, het dié snit ook op programme soos Jukebox, Hectic 99, Jakkals Jol (SABC 2), Sunrise en eNews (eTV) verskyn. Sedertdien tree sy gereeld op by feeste en funksies en beskou sy elke treetjie in haar musiekloopbaan as ’n hoogtepunt.
Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy hard besig met haar BA Sielkundegraad en werk sy aan liedjies vir haar volgende album.
Van vooraf begin het, soos die res van Mariska se album, ’n liefdesboodskap wat verweef is met ’n opgewekte dansritme en lekkerluister saamsing-lirieke, wat weer van vooraf vir haar ’n plekkie in Suid-Afrikaanse musiekharte en kuierplekke gaan verseker.
Kyk die musiekvideo eksklusief aanlyn hier: