Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

S.O.S, Fatman is terug met nóg musiek!

FOTO: Verskaf

Fatman is een van daardie kunstenaars wat ’n natuurlike talent het om gehore te vermaak. Vandat Kahn Morbee sy stoel vir dié veelsydige sanger en vermaaklikheidster gedraai het, tydens die blindeoudisies van die tweede seisoen van die M-Net-musiekrealiteitsprogram, The Voice SA, kan aanhangers net nie genoeg kry van sy musiek nie en het hy al talle groot radiotreffers vrygestel.

Nou is hy terug met ’n splinternuwe enkelsnit en album, S.O.S, wat nie net beloof om die sukses van sy vorige werk te oortref nie, maar ook sommer ’n paar nuwe luisteraars te beïndruk.

S.O.S is, net soos die inhoud van die res van die nuwe album met dieselfde naam, ’n lekkerluister-popsnit wat jou uitnooi om saam te sing en ’n draai op die dansvloer te maak. “Hierdie liefdesliedjie gaan oor ’n man wat vir sy geliefde sê: ‘Hier is ek. Hoor my nood, vat my want ek is joune.’ Dit is altyd vir my fassinerend wanneer twee mense dieselfde oor mekaar voel, maar die een is nie instaat om die liefde voor haar raak te sien nie, omdat sy bang is om uit haar gemaksone te tree,” verklap hy oor die betekenis agter sy vierde enkelsnit wat hy saam met Werner Beukes geskryf het. “Ek glo dat die publiek by die lied sal aanklank vind, omdat almal al in so ’n situasie was en omdat die lekker ritme en wysie hulle voete sal laat jeuk om te dans.”

Oor die musiekvideo, vertel hy: “Ek bring altyd humor in, of ’n liedjie nou ernstig of opgewek is. In hierdie video ontmoet ’n doodgewone ou ’n pragtige ryk bekende vrou. Hulle deel ’n oomblik, maar hy sukkel om daarna weer haar aandag te trek.” Die video is deur die bekroonde videograaf- en vervaardiger, Gerhard van Rooyen, in Pretoria verfilm.

Kyk die musiekvideo hier:

Sy nuwe album, S.O.S, bou voort op die energieke wenresep van sy voorganger en bestaan uit sestien handuitgesoekte liedjies wat in Fatman se unieke styl omtower is en sy sangtalent pragtig ten toon stel.

Omdat hy self by elke aspek van die opname en vervaardiging van die album betrokke was, het dit effens langer geneem as die vorige een, maar voel hy baie trots op die eindproduk wat hoofsaaklik saam met vervaardiger en mede-skrywer Werner Beukes geskep is. “Daar is regtig iets van alles op die album, van dieper hartsmusiek tot lekker danstreffers. Ek het nog nooit gehou van iets wat vervelig is nie, daarom geniet ek variasie en skryf ek liedjies soos wat die gevoel en luim my beetpak,” verduidelik hy. “Dit bevat ’n mengsel van nuwe oorspronklike snitte, vorige treffers en my weergawe van ou gunstelinge deur kunstenaars soos Lucas Maree, Gé Korsten en Elvis Presley. Esmarelda is deur Fredi Nest geskryf en die liedjie Jy Is lê my geweldig na aan die hart.”

Buiten vir ’n unieke verwerking van Kurt Darren se treffer, Kaptein, saam met Parlotones-voorsanger, Kahn Morbee, bevat die CD nóg twee ballades wat diep tref. Liedjie Vir Jou, die Jannie du Plessis-treffer, wat hy saam met Caroline-Grace Brüssow van The Voice SA opgeneem het, sal jou hoendervleis gee en lank bybly nadat die laaste note weggesterf het. Sonneblomgesiggie, ’n liedjie wat hy vir sy kinders (Sanrico en Pedri) geskryf het, word ook met soveel gevoel gelewer dat ’n mens dadelik besef dat dit vir hom baie spesiale betekenis het. Al drie hierdie snitte was ook groot gunstelinge op sy vorige album. “Dit is vir my ’n groot hoogtepunt en inspirasie wanneer ek sien hoe mense my musiek geniet en as dit gebeur het ek my doel bereik,” sê die sanger. 

Fatman, oftewel Johan Brümmer, se debuut-album (Boom Baby) is in 2017 uitgereik en het verskeie groot treffers opgelewer, waaronder die titelsnit en die dansnommertjie, Dorp Toe, wat ’n gunsteling is by partytjies en kuierplekke. Beide liedjies het op die treffersparades van talle groot radiostasies gepronk en kry steeds vandag speeltyd oor die radio. Dorp Toe se musiekvideo is reeds deur meer as 2.7-miljoen kykers op YouTube gekyk en word deur die kunstenaar beskou as een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan sover. 

Die drie-en-veertig-jarige musikant, met sy kenmerkende harderandhoed, is in Pretoria gebore en het in Marble Hall grootgeword. Van kleins af, het hy dit geniet om ander te vermaak en was nege toe hy saam met sy pa begin optree het. Alhoewel sy pa aanvanklik daarteen gekant was toe hy na matriek ’n musikant wou word, het Fatman hom nie laat afsit nie en musiek gaan studeer aan die Pretoria Musiek Akademie en Unisa. Hy het in die vroeë 90’s vir sewe jaar lank saam met sanger, Pieter Smith, opgetree, waarna hy en sy vrou die stad verruil het vir die plaaslewe in Bela-Bela om hulle kinders groot te maak. Nadat hy vir drie-en-twintigjaar sy eie ding gedoen het, het sy gesin besluit om hom in te skryf vir The Voice SA. Hulle het ’n opname gemaak van hom wat Mika se Grace Kelly sing en dit as ’n video-oudisie ingestuur vir die kompetisie. Hy het in die Top 5 van die kompetisie geëindig.

Sedertdien het die musikant ’n gereelde gesig geword by groot feeste, kuierplekke en funksies regoor die land. Hy het ook saam met sy mede-kompetisiedeelnemer, Caroline-Grace Brüssow, ’n vertoning genaamd Beauty and the Beast gedoen en was deel van die het  The Voice Reunion Show.

Fatman glo dat jy nooit te oud is om enigiets te doen nie en dat jy die lewe ten volle moet geniet en daarom het hy nog baie drome en planne vir die toekoms, maar vir nou beplan hy eers om die land plat te toer om sy nuwe musiek te bemark. Hy sou ook nog graag saam met Steve Hofmeyr wou werk in die toekoms.

As hy enige ander beroep moes kies, sou hy ’n pandjieswinkeleienaar of omroeper wou word, omdat hy dit vreeslik geniet om in pandjieswinkels rond te snuffel en sy menings te deel met die wat wil luister. “Alledaagse gebeure inspireer my om musiek te skryf en te sing. My gunstelingmusiek is Southern Hymns van Amerika en tradisionele Country en ek werk ietsie van alles in my eie liedjies in,” verklap die ster oor homself.

S.O.S is een van daardie liedjies en albums wat bestem is om koning te kraai op die dansvloer van elke partytjie of kuierplek en is ’n móét vir elkeen wat van opgewekte musiek hou se speellys.