Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Ricus Nel en Snotkop gee nuwe betekenis aan die konsertina

FOTO: Verskaf

Ricus Nel en Snotkop het kragte gesnoer en ’n nuwe naam vir die konsertina gekry: ’n ‘boerepompie’.

Dié duo het onlangs hul musiekvideo vir die liedjie Boerepompie vrygestel waar hul die konsertina gebruik om die rustige plaaslewe met die gedruis van die stad byeenbring.

Volgens Ricus, wat al 25 jaar die konsertina bespeel, is ’n boerepompie ’n term wat lank reeds in boeremusiekkringe gebruik word en dat hy al lank met die idee rondloop om ’n liedjie daaroor te doen.

“’n Boerepomp is ’n ou tradisionele konsertina wat ons voorvaders bespeel het en ons doen dit nou nog,” verduidelik Ricus.

Afgesien van ‘boerepompie’ noem Ricus en Snotkop die konsertina ook ’n krismiswurm, donkielong of pompielompie. “Dis so ’n wonderlike beskrywende woord vir ’n instrument wat al so lank deel is van Afrikaanse musiek,” sê Snotkop.

Met dié liedjie span ’n plaasjapie (Ricus) en stadsjapie (Snotkop) kragte om die beste van die plaas en stad in een treffer uit te beeld. Gevolglik kry boeremusiek daardie ekstra skop met lekker ritme en ’n goeie dosis kletsrym vir daardie ietsie tong-in-die-kies.

Ricus en Snotkop is ook albei van mening dat dié liedjie die perfekte snit vir elke geleentheid is, behalwe vir een.

“Luister dit vir ’n break-up, op troues, sokkie-aande, in jou stoor, in jou woonstel, by feeste, op jou 21-ste verjaardag, by die KFC eenuur die oggend, enige plek behalwe op begrafnisse,” terg Snotkop.

Die musiekvideo is in en om Pretoria verfilm en volgens Snotkop was daar hope pret op stel.

Kyk die musiekvideo hier:

Boerepompie is die eerste enkelsnit vanaf Ricus Nel se splinternuwe album wat op 12 Julie vrygestel word. Dié liedjie is ook op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.