Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Janie Bay se eerste Afrikaanse solo-enkelsnit is hier!

FOTO: Verskaf

Die gewilde sangeres Janie Bay se eerste Afrikaanse enkelsnit Amper daar is pas uitgereik. Janie sê dat Amper daar handel oor hoe dit is om in ’n verhouding te wees. “Soos mens dit regtig ervaar, nie soos in die flieks nie,” vertel sy.

Janie het al voorheen ’n paar Afrikaanse liedjies in samewerking met ander kunstenaars opgeneem, maar hierdie is die eerste solo liedjie wat as ’n offisiële enkelsnit uitreik is. “Ek skryf tans in Afrikaans en het dit baie geniet om hierdie liedjie te skryf en op te neem. Ek werk ook aan ’n vollengte album wat hopelik oor ’n paar maande uitgereik gaan word.”

Janie verduidelik dat Amper daar daaroor gaan dat mens eintlik nooit regtig in ’n verhouding arriveer nie. “Dis ’n reis wat twee mens saam neem wat nooit eindig nie, vandaar die roadtrip in die musiekvideo, wat ook pas uitgereik is, wat uitbeeld dat die kar altyd bly loop.”

Kyk hier na die musiekvideo:

Janie voel opgewonde oor hoe musiek tans ontwikkel. “Dis ‘n wonderlike tyd om te kan eksperimenteer met jou eie vibe. Ek ervaar dat die wêreld baie meer oop daarvoor is dat mens jou eie kleurvolle self kan wees. Dis ’n tyd van nuwe style en interessante klanke en ek geniet die vryheid wat dit bied om myself te kan uitleef. Ons het almal soveel meer van onsself om te gee as wat ons aanvanklik besef. Dis lekker om te sien dat meer kunstenaars dit waag om hulle unieke stempels op musiek af te druk,” gesels die sangeres.

Janie Bay se sangloopbaan het die afgelope paar jaar opwindende draaie geloop. Sy het in 2016 ’n platekontrak met Warner Music geteken en haar album Miscellany, wat in 2017 uitgereik is, is benoem vir ’n SAMA. Die liedjie Can’t be the One vanaf hierdie album het in 2018 ’n Goue-toekenning vir Beste musiek in ’n Video by die Queen Palm International Film Fees in Palm Springs, Kalifornië ontvang. Video’s van samewerkings tussen Janie en verskeie gewilde kunstenaars onder andere Jack Parow, Hunter Kennedy, Bouwer Bosch en Jan Bloukaas is kollektief al meer as 500 000 keer op YouTube gekyk.

Hunter Kennedy, wat saam met Janie verlede jaar die liedjie Wag vir Jou opgeneem het, voel dat sy iemand is om dop te hou: “Janie is die outentieke vroulike, Alternatiewe Pop stem waarvoor ek al lankal wag.”

Janie se musiek kan ook gehoor word in die plaaslike films soos Mooirivier en Vir Altyd. Sy het ook haar eie weergawe van You are my Sunshine opgeneem vir die fliek Stroomop.