Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Bederf só vir Pa met DZL

FOTO: Verskaf

Het jy al goed kop gekrap oor wat om vir Vadersdag te doen? Wat van ’n potjie golf binne die Krugerwildtuin en ’n lekker kuier met die sanggroep, DZL en Pieter Koen?

Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het hande gevat met Sanparke Ereveldwagters Marakele Streek en bied vanaf 14 tot 16 Junie ’n golfnaweek op die Skukuza Golfbaan in die hartjie van die Krugerwildtuin aan. Die geleentheid is ten bate van natuurbewaring met ’n spesifieke fokus op teen-renosterstropery projekte.

“Renosters was nog altyd ons eerste liefde en dit is waar ons ook baie van ons tyd en aandag spandeer. Hierdie projek lê ons dus baie na aan die hart en ons het nie twee keer gedink om betrokke te raak toe die Sanparke Ereveldwagters Marakele Streek ons genader het nie,” vertel Andries.

Natuurlik is daar ook lekker pryse op die spel. DZL gee vyf kampeerstaanplekke binne Skukuza Ruskamp vanaf 14 tot 16 Junie weg aan gelukkige wenners. Dié kampeerplekke kan elk vier gaste akkommodeer. Die wenners gaan ook ’n ete en toegang tot ’n konsert met DZL en Pieter Koen op 14 Junie in Skukuza wen.

Hoe gemaak om te wen?

Bespreek jou plek om aan die golfdag deel te neem en stuur vir ’n e-pos na bookings@dzlband.co.za met die bewys van jou bespreking. Vyf gelukkige wenners sal dan op 1 Mei 2019 aangekondig word.

Die golfdag self word op 15 Junie 2019 op die Skukuza Golfbaan aangebied. Dit is ’n 9-gaatjie baan wat reeds in 1972 sy deure oopgemaak het en spelers word gereeld getrakteer met wilde diere wat van nader wil kennis maak.

“Dit is nie ongewoon vir ’n vlakvark of kameelperd om gou in te loer terwyl die spelers die dag op die baan geniet nie. Dit is juis wat hierdie dag so spesiaal maak; nie net speel mens lekker golf op ’n unieke golfbaan nie, die fondse gaan ook vir ’n baie goeie doel,” vertel Andries.

Die Sanparke Ereveldwagters is die amptelike vrywilligers organisasie wat Sanparke ondersteun met verskeie projekte. Oor die afgelope paar jaar het die Ereveldwagters veral hulle fondsinsamelingsprojekte op renosterbewaring gefokus met die doel om renosterstropery binne die nasionale parke teen te staan. In 2017 was daar nagenoeg 1028 renosters in die nasionale parke gestroop.

“Die dood van hierdie renosters is ongelooflik ontstellend maar terselfdertyd herinner dit ons aan die feit dat daar nog baie werk is om te doen en dat ons nie kan slaplê nie. Dit is dus uiters belangrik om projekte soos die wat die Marakele Streek aanbied te ondersteun want die fondse word daadwerklik aangewend om stropery te voorkom,” sê Wiaan.

Die fondse wat tydens die golftoernooi ingesamel word gaan spesifiek vir projekte binne die Marakele Nasionale Park. Die park is gereeld die teiken van stropers na gelang van sy wit- en swart renoster populasies.

“Van die toerusting wat aangekoop gaan word is ’n ‘off road’ kampeerwa met elektriese toerusting en ’n solar-sisteem, 20 slimfone om kommunikasie tussen die spanne in die park te verbeter, 17 eenman tente vir die anti-poaching spanne sowel as ses skandeerders vir karre en lisensies,” verduidelik Wiaan.

Kostes om aan die golfdag deel te neem is soos volg:

R1000.00 per individu.

R4000.00 per vierbal.

Dit sluit in: Verversings tydens aankoms, Green Fees, Middag- en Aandete.

Vir besprekings kontak Susan Vrey 082 802 5527 / susanvrey@gmail.com.