Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Deon Groot se nuwe album stel nie teleur

FOTO: Willem Botha

Deon Groot se nuwe album en tweede enkelsnit vanaf hierdie album, Ek Sweer, is pas bekendgestel en aanhangers is in vervoering!  Sy eerste enkelsnit, Wyn, wat gedurende Maart 2019 vrygestel is, het die Nr. 1 posissie op die trefferparades van radiostasies landwyd ingeneem en Ek Sweer gaan beslis nie teleurstel nie!

Volgens Deon, is die inhoud op sy nuutste ateljee-album, wat ses maande geneem het om op te neem, verweef met liefdes- en partytjieliedjies. “Elke liedjie op die album moes aan die kenmerkende klank van die Namakwaland voldoen en by ’n groter gehoor aanklank vind, sonder om prys te gee wie ons as kunstenaars is,” sê hy. “Die grootste uitdaging was om te verseker dat dit uniek bly en nie net tendense navolg nie. Ons moes getrou bly aan ons self, sonder om luisteraars af te skrik.”

Vir die sanger, is die hoofdoel om waardering vir sy musiek te skep met goeie melodieë en eerlike lirieke – hy wil graag hê dat mense dit moet geniet vir wat dit is.

Hy beskryf die album as eenvoudig, maar treffend: “Ons moet maak soos die Namakwalanders – hulle leer ons om te dans, om saam te kuier, en om musiek en goeie geselskap te geniet,”verklap hy.

Dit is egter onmoontlik om te raai watter liedjie die grootste treffer gaan wees. “Ek het ’n gevoel dat enige snit, wat ons vrystel, positief ontvang sal word en die potensiaal het om groot hoogtes te bereik.”

Op die ou einde van die dag, meen die musikant dat hy net graag wil hê dat aanhangers die album moet geniet: “Mense moet daarna luister en hulleself herken in die musiek. Elke liedjie vertel ’n storie wat ek graag wil hê almal moet hoor.”

Deon, wat sy debuutalbum, Gee my Oor, in 2017 vrygestel het, het in ’n musikale huis grootgword. My ma was ’n musikant en het gewoonlik in die aande vir ons klavier gespeel toe ons klein was,” vertel hy.

Hy het al jare terug daaraan begin werk om sy eie musiek te skep. “Almal dink dat jy oornag ’n sukses word. Maar dis nie waar nie, ek skryf al liedjies van 2004 af. Ek tree ook al sedert 2007 in kroeë op en het in 2015 my eie ding begin doen. Dit het amper vyftien jaar se harde werk, geloof, droom en bou geneem om te kom waar ek nou is.”

Deon glo dat elke situasie in die lewe êrens heen lei – hartseer, liefde, geluk – en dat almal emosies op ’n unieke manier ervaar. Dit is wat hom inspireer en sy musiek vorm, wat wissel tussen baie ernstig tot skreeusnaaks.

Hy het ook ’n groot hart vir diere en sou graag ’n wildbewaarder wou wees as hy nie ’n musikant was nie. “Ek glo dat ek in die natuur, tussen diere hoort. Min mense weet dit, maar ek het ’n groen boomluislang met die naam Ceimera. Ek is gek oor diere.”

Wanneer jy hom vra wat die musiekbedryf hom oor die jare geleer het, antwoord hy: “Geduld en uithouvermoë. Jy sal dit nooit maak as jy nie in jouself glo nie.

Dit is die grootste uitdaging om nie ander mense se opinies oor jou werk, goed of sleg, te ernstig op te neem nie. Dis belangrik om net jouself te wees en te leef vir dit wat jy graag wil bereik.”

Luister die album hier op Apple Music: