Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Lukraaketaar keer na meer as ’n dekade terug

FOTO: Liam Lynch

Die akoestiese musiekduo, Lukraaketaar, wat destyds opslae gemaak het met treffers soos Om te kan en Taranangi Junkie, is ná meer as ’n dekade terug op die musiektoneel met twee nuwe enkelsnitte.

Dié duo bestaan uit Pierre Greeff, deesdae voorsanger vir Die Heuwels Fantasties, en Alwyn Kotzé, wat mekaar jare gelede op Stellenbosch ontmoet en saam begin musiek maak het. Die groep se twee jongste enkelsnitte Verinneweer en Hou My is pas uitgereik.

Volgens Pierre het hy en Alwyn oor ’n paar biere besluit om weer saam musiek te maak, nadat die rolprentregisseur, Neil van Deventer vir Alwyn herinner het aan Hou My, wat hy reeds sowat sewe jaar gelede geskryf het, maar nooit opgeneem het nie.

“Op daardie stadium het ek net begin skryf aan Verinneweer en dit het dadelik soos iets geklink wat ons saam kon opneem. ’n Whatsapp-boodskap of twee later oor die moontlikheid om weer saam iets aan te pak en siedaar,” vertel Pierre.

Die snitte is by Pierre en Fred den Hartog, ook ’n lid van Die Heuwels Fantasties, se ateljee in Kaapstad. Fred en Loki Rothman het die vervaardiging daarvan behartig.

“Baie heimwee en min moeite is wat luisteraars in dié twee snitte sal hoor,” vertel Pierre verder.

Die duo se eerste sewesnitkortspeler, Fop Genade, is in 2005 uitgereik en ’n selfgetitelde vollengte album Lukraaketaar het in 2008 gevolg.

Die musiekvideo’s vir Om te kan en Taranangi Junkie is saam meer as sestig duisend keer op YouTube gekyk. Die gewilde DStv-musiekplatform, MK, wat in 2005 begin uitsaai het, het gereeld die musiekvideo’s gespeel en bygedra tot die groep se sukses.

Verinneweer en Hou My is nóú op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.