Samantha Leonard: ‘Gedrewe, passievol en intens’

FOTO: Fathom Media

Samantha Leonard, wat in 2017 die derde plek in die Suid-Afrikaanse weergawe van The Voice behaal het, het onlangs haar debuut-album ’n Duisend Keuses vrygestel.

Ons het gaan aanklop om uit vind wie dié sangeres is en oor haar album gesels.

LEES OOK: Samantha Leonard se debuut-album is hier!

Wie is Samantha Leonard in ’n neutedop?

Gedrewe, Passievol, Intens

Jy het pas jou debuut-album vrygestel. Hoe voel jy oor die album?

Onbeskryflik trots! Ek het soveel van myself die afgelope twee jaar geleer, hoeveel passie ek in my het vir wat ek lief het. Dis hoe ons opstaan nadat ons geklop word wat ons as ’n mens definieer. Ek is trots op my hart en dat ek nooit opgegee het in tye waar ek moedeloos gevoel het nie.

Het jy ’n gunstelingliedjie op die album? Wat is dit? En waarom kies jy dit?

’n Duisend Keuses, my heel eerste enkelsnit en die fondasie van my solo-album, is ’n baie persoonlike liedjie, wat my herinner waarom ek verlief geraak het op sing en hoe dit my inspireer en laat voel; en dat ek nie musiek gekies het nie, maar dat dit my gekies het. Dis wie ek is, dis in my bloed, en dis die enigste ding wat my motiveer om nooit op te gee wanneer dit by my drome kom nie. Dit is vir my ’n voorreg om my storie, deur middel van musiek, met die wêreld te deel.

Die enkel- en titelsnit kom uit my eie pen en hart, en vertel die storie van my loopbaanreis sover en van die keuses wat ek moes maak om tot op hierdie punt te kom. Hierdie enkelsnit is ’n refleksie van my hart en waar ek op hierdie stadium van my lewe is. Ek deel al die struikelblokke wat ek moes oorkom en die feit dat ek moes sterk staan, ten spyte van alles. Dit was vir my belangrik dat die fondasie van my album van die begin af eerlik is oor wie ek, as kunstenaar en persoon, is en die waardes waarin ek glo. Daar is duisende keuses voor ons neergelê in die lewe en dit is ons verantwoordlikheid om die regte besluite te maak wat ons toekoms gaan bepaal. Partykeer maak ons die verkeerdes en kry baie seer daardeur, maar dis hoe ons weer opstaan wat saak maak en wat ons uit daardie foute leer.

Jy het in 2017 aan The Voice SA deelgeneem. Dink jy jou stem het van daai tyd tot nou gegroei?

Ek kan hoor en sien hoe groei ek elke liewe jaar. Ek sal myself altyd uitdaag om beter te presteer met elke hoofstuk in my lewe in alles wat ek aanpak.

Watter boodskap het jy vir die wat nog huiwer om die album aan te skaf?

Ek bid dat my liedjies op die album ’n verskil in hulle lewe sal maak. Ek hoop dat ek vir hulle ’n inspirasie sal wees om nooit op te gee op hulle drome nie. Ek hoop dat my woorde en boodskap agter my liedjies vir hulle iets sal beteken en ook deur moeilike tye dra waardeer ek self gegaan het en dat hulle nie alleen hoef te voel daardeur nie.

Watter toekomsplanne het jy?

My hoofdoelwitte in die lewe is om musiek te maak en om mense te motiveer. Ek droom dat my solo-album ’n sukses sal wees en dat ek vir altyd die voorreg sal hê om te kan aanhou doen waarvoor ek so oneindig lief is, en dis sing! So oor vyf jaar van nou sien ek myself met my vyfde solo-album in my hand.

Honde of Katte?

11 maande oud Pekingese

Wyn of Bier?

Wyn

CD wat tans in jou motor speel?

Tori Kelly

Gunsteling musiekgroep?

Little Mix

Gunstelingliedjie van alle tye?

Jessie J –You Don’t Know Me

Ek sou kon doen met…

Sushi  

Samantha Leonard se debuut-album, ’n Duisend Keuses, is nóú op digitale musiekplatforms asook goeie musiekwinkels beskikbaar.