Dirk van der Westhuizen en Bobby van Jaarsveld sing oor vriendskappe

FOTO: Emil Paul

Eers Dirk en Die Flooze en nou snoer Dirk en Bobby van Jaarsveld kragte vir ’n folk-danstreffer met ’n country-ondertoon uit Dirk se eie pen.

Dis Wat Ons Wil Hê gaan oor vriende en om lekker tye saam met jou vriende te hê. Dit gaan oor om die beste te maak van die lewe saam met jou pêlle en te lewe vir elke liewe oomblik. “Dit is eintlik so perfek vir my en Bobby want daar is ook lirieke waar ons praat van dit wat ons voel en ons wil dit deel met die land. Ons wil juis met hierdie liedjie vir die land wys hoe belangrik vriendskap is en dat ons kunstenaars almal vriende is met mekaar en nie in kompetisie is met mekaar nie,” vertel Dirk.

Volgens dié sanger, wie se nuwe album in Mei vanjaar vrygestel word, probeer hulle die boodskap dat mense nie kompeterend moet wees met mekaar nie, maar dat almal vir mekaar ’n plek in die son moet gun en dat ons moet saam staan, want as mens saam staan kan jy soveel meer vermag, oordra. “So in kort, dis wat ons wil hê, eenheid, liefde en om mekaar te behandel soos jy self behandel wil word.”

Dis Wat Ons Wil Hê is een van die duette op Dirk se nuwe album en volg kort op die hakke van die vorige duet Sout & Peper – ’n nuwe enkelsnit saam met Die Flooze – wat se musiekvideo reeds deur meer as 150 000 mense op YouTube gekyk is. Beide dié enkelsnitte gaan oor vriende en vriendskap. “Die belangrikste boodskap met beide die liedjies wat in Maart vrygestel word is om die klem op vriendskap te plaas en hoe belangrik vriende in ons lewens is en dat mens altyd die beste van die lewe moet maak,” verduidelik die sanger.

LEES OOK: Dirk en Die Flooze bring twee wêrelde saam met ‘Sout & Peper’

Dirk hoop dat mense van die liedjie gaan hou en vertel: “Dit het beslis ’n goed-voel effek, maar dra veral die boodskap oor eenheid, vriendskap en om mekaar te behandel soos jy graag behandel wil word oor. Ek wil dit graag oordra in die musiek en ek hoop die publiek ontvang dit ook so.”

Die musiekvideo vir die enkelsnit is verfilm en vervaardig deur Christian Wolf van Brick Wolf Productions en speel af in Pretoria by The Shack in Kameeldrift-Oos. Dirk wil nie te veel oor die musiekvideo uit die mou laat nie, maar verklap wel dat dit ’n lekker saam-sing en dans video is.

Kyk die musiekvideo hier:

“Kom ons gaan kuier tot die aand gaan lê, nog ’n bietjie langer soos ons altyd sê,” lui die lirieke en dís presies hoe jy gaan voel na jy die enkelsnit geluister het.