Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Rita Li is reg om die musiekbedryf ‘in te kleur’

FOTO: Verskaf

Diegene wat goeie gehalte Afrikaanse musiek waardeer kan hulself regmaak vir ’n nuwe gunsteling in die bedryf. Rita Li van Centurion in Pretoria se eerste enkelsnit,  Logiese Liefde, vanaf haar kortspeler Inkleurboek, is pas vrygestel.

Logiese Liefde, is gebaseer op ’n gedig deur Christel van Heerden, en is deur Rita Li, Annie Curtin en Nadia Erasmus geskryf. Sy vertel: “Toe ek op die gedig afgekom het, het ek dadelik aan my man gedink. Hy is die ontleder, wiskundige en ‘brein’ in ons gesin en daar is nie ’n numeriese uitdaging wat te moeilik vir hom is nie – iets waaroor ek natuurlik self glad nie kan roem nie. Hy’s ook ons rots en steunpilaar…vandaar die woorde ‘my basis, my hoogte, my lengte, my breedte’. Met dié agtergrond sal die liedjie nou veral sin maak.”

Rita Li sê dat sy so geïnspireer is deur die gedig en Paul (haar man) se karaktereienskappe wat sy so bewonder, dat die liedjie binne 45 minute kant en klaar geskryf was. “Ek moet bieg dat wanneer my regterbrein inskop, is dit soms baie frustrerend om Paul se linkerbrein te verstaan. Dan herinner ek my daaraan dat hy ons rots is,” brei sy gretig uit.

Kyk die liriekvideo van Logiese Liefde hier:

Diegene wat verlief gaan raak op Logiese Liefde, gaan net so versot wees op die ander snitte op haar kortspeler, insluitende die titelsnit, Inkleurboek.         

Inkleurboek gaan oor ’n plaasmeisie se eerste liefde in die groot stad. Sy is ’n koshuiskind en het naweke plaas toe gegaan. Dit is nie aldag dat ’n kêrel die ‘ja’ van haar ouers gekry het om saam soontoe toe te gaan nie. Hier het hulle dan wonderlike herinneringe gemaak; van in die veld hande vashou, tot daardie eerste soen in ’n grot, en soveel meer. Hierdie liefdesverhouding groei dan deur die jare tot hulle uiteindelik trou. Daarom ‘Inkleurboek’ – amper soos ‘storieboek’ met metaforiese kleure van hoe hul mekaar se lewens ingekleur het.”

Rita Li vertel verder dat die lied almal daaraan moet herinner om mekaar op die verskillende stadiums van hul lewens te waardeer, en altyd die mooi en goeie kleure van die lewe uitdeel om sodoende ander se lewens so mooi as moontlik in te kleur.

Rita Li sê dat al vyf liedjies wat op haar kortspeler verskyn, uniek op sy eie manier is, asook uit verskillende genres. Nadat sy oor ’n paar maande haar tweede enkelsnit vrygestel het, beplan Rita Li dan om ’n splinternuwe, volledige album voor 2020 beskikbaar te stel.

Daar is ook ’n musiekvideo vir Inkleurboek beskikbaar wat in Bapsfontein met Rita Li se eie perde kinders en van haar vriende se kinders geskiet is.

Kyk hier na die musiekvideo:

Net soos die meisie in Inkleurboek, ken Rita Li van plaasmeisie wees. As die oudste van drie kinders, het sy na haar geboorte (2 Junie 1986) op ’n kersie- en melkplaas in Clocolan in die Oos-Vrystaat groot geword, waar haar ouers nogsteeds op hul plaas Constantia boer. Rita Li (32) het ’n sussie (30) wie ’n arbeidsterapeut is en ’n broer (22) wie tans landbou ekonomie aan die PUK studeer.

Rita Li is self geleerd as ’n fisioterapeut en het haar suksesvolle praktyk van 10 jaar se deure in 2018 gesluit om op haar sangloopbaan te fokus. “Vir ’n dekade het ek my hart en siel in my praktyk uitgestort en was so geseënd met die mense wie ek leer ken het. Dit het my ’n jaar geneem om uiteindelik oor te gee aan iemand anders omdat ek so lief geraak het vir elke pasiënt. Maar dis nou geskiedenis, want dit was die pad wat vir my beplan was. Wanneer jy weet die Groter Hand is in beheer is dit eintlik so maklik. Ek mis wel die gesprekke, want wanneer iemand vir behandeling gekom het, het hulle jou in hul persoonlike spasie en hart toe gelaat,” vertel sy.

Wat musiek betref, het Rita Li se liefde daarvoor al vroeg-vroeg begin toe sy op die ouderdom van drie jaar met klavierlesse en dansklasse begin het. Sy het die afgelope dertien jaar meestersklasse in klassieke sang ontvang by die bekende liedjieskrywer en kabaret-kunstenaar, Gisela de Villiers.

Sy vertel dat beide kante van haar ma en pa se familie baie musikaal was. “My ma kon baie goed klavier speel en dans, en my pa was ’n trompetspeler vir die Vrystaatse Simfonie Orkes. Dan het ek boonop ook ’n oom wat 14 instrumente kan speel. My sussie sing ook baie mooi en kan klavier en viool speel en my boetie weer dromme en kitaar. So inderdaad – musiek is in die bloed!”

Rita Li is op 23 getroud met Paul Cronjé op hul eindste familieplaas en hulle is die trotse ouers van ’n pragtige twee-jarige seuntjie, Charl. Paul is ’n meganiese ingenieur en ook die eienaar van ’n 3D-druk winkel wat projekte beide plaaslik en internasionaal behartig.

Rita Li sluit af: “Ek sal graag eendag onthou wil word as ’n vrou wie haar drome met alles nagejaag het en vir diegene wat in hulself twyfel ’n voorbeeld kon wees van droom, hoop, glo en doen. Ek hoop ook mense sal my onthou as ’n dinamiese dog sagte, nederige vrou wie se God, gesin en familie haar belangrikste fokus was. Ek wil iemand wees wat ander help om uit die seer van die lewe te kom en iets daadwerkliks daaraan doen om te help dat hul in hulself glo.”

Rita Li se musiek is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.

Vir meer inligting, besoek haar webblad by www.ritali.co.za.