Suzzi Swanepoel stel musiekvideo vir ‘blou sweeties’ vry

FOTO: Verskaf

Suzzi Swanepoel se nuwe enkelsnit Blou Sweeties – nee – nie dáái soort blou sweeties nie, maar doodgewone Smarties.

Suzzi het die liedjie geskryf toe sy negentien was en in dié tyd het sy altyd die kleure uitgesoek en dan al die Smarties kleur-vir-kleur opgeëet.

Die liedjie se lirieke is nostalgies, ’n mengelmoes van gevoelens en gedagtes, en handel daaroor dat alle mense in alle verhoudings soms baklei. Tog, is dit nie altyd net met mekaar nie, maar ook ter wille van mekaar.

Dan is daar natuurlik die ou sê-ding dat ’n mens nooit kwaad vir mekaar mag gaan slaap nie!

Elke mens is uniek en die naaste waarheid wat daar is, is waarskynlik om eerlik te wees oor wie jy is. Soms is dit nodig om introspeksie te doen en soms moet jy vir jouself opstaan. Hoe dit ook al sy, dié lied gaan oor verhoudings en die intriges wat daarmee gepaard gaan.

“Ons het twee musiekvideo’s in 24uur geskiet. En ek kan nou vir julle sê dat dit geen grap was nie. Die lekker deel was dat ons in Kaapstad se strate kon speel en die stad gedruis kon vasvang. In die video sien ’n mens die introspeksie van ’n meisie wat met haar kêrel baklei. Sy probeer hul verhouding red, maar hy sit die foon in haar oor neer. Sy beweeg dan deur emosies – van ’n skuldgevoel, tot woede, hartseer, nostalgie en alle ander emosies wat ’n mens in situasies soos hierdie beleef,” vertel Suzzi.

Kyk die musiekvideo hier:

Hierdie rock & roll liedjie wys vir ons nog ’n stukkie van Suzzi en wat sy alles kan doen.