Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Dirk en Die Flooze bring twee wêrelde saam met ‘Sout & Peper’

FOTO: Verskaf

Nadat die dinamiese duo Dirk van der Westhuizen en Die Flooze, die land aan die brand gemoker het met hul titaniese Tennis Tune, is hul terug met nóg ’n enkelsnit. Maar moet jouself nie flous deur te dink dit gaan in die skadu van die Tennis Tune staan nie – allermins – dié snit beloof om sy eie unieke stempel af te druk nes Dirk en Die Flooze hul eie identiteit het, maar saam ’n wen kombinasie van pret is.

Sout & Peper, uit Dirk en Die Flooze se pen, is ’n dansliedjie met ’n beat wat brand soos peper en ’n tikkie sout vir smaak van geluk en vriendskap. “Ons het alles saam aangepak met die liedjie – van die skryf, die konsep vir die video en die danspassies in die video – en saam kreatiewe kennis ingespan om die beste van beide wêrelde in die liedjie in te bring. Die lirieke in die liedjie som dit so mooi op: ‘Sakke pakke sout & peper, saam is ons beter!’,” vertel Dirk.

Die duo is van mening dat Sout & Peper in elke huis, kombuis en geselskap hoort en verduidelik: “Peper is nodig vir baie brandgeure en sout vir ’n bietjie smaak. Elkeen het sy eie unieke identiteit en sy eie doel in die speserye rak. En hoewel hulle individuele uiterstes is van mekaar, is hulle dié mees perfekte kombinasie en feitlik onafskeidbaar by élke maaltyd regoor die wêreld, áltyd sy aan sy, langs mekaar – tjommas, al is hulle teenpole. Want Sout & Peper is vir almal en elke ete en etenstafel het dit – van die adelike koninklikes tot die kampeerdes in die karavaanpark by die Witbank dam. Dit sluit niemand uit nie en hoewel dit algemeen is, kan geen gereg geslaagd wees sonder daardie basiese bestanddele nie.”

“Net so is dit met vriendskap. Al is die ene dalk die peper wat ’n bietjie meer brand in persoonlikheid en die ander ene die sout katalisator wat meer simplsities is, is hulle saam die ‘cool & crazy combo’ en bring elkeen so die beste geure in mekaar se lewens uit – soos vinkel en koljander, soos Bonnie & Clyde, soos sout & peper. Dus is die song vir almal en vir elkeen, maak nie saak watter ouderdom nie. Elke pot kry sy deksel en daarom kry elke soutpot sy peper-pêl.”

Die musiekvideo, wat deur Christian Wolf van Brickwolf Creatives opgeneem en vervaardig is, het net soveel smaak. Die video, wat op 4 Maart op YouTube te sien sal wees, is iets heeltemal anders as die van die Tennis Tune. “Daar is hope houding en baie kreatiewe dansbewegings wat ons saam self ‘create’ het. Die Flooze het ook ’n gedaante verwisseling ondergaan en is beslis ’n vernuwende sexy Flooze met ’n moderne aanslag terwyl Dirk se bultende spiere iets vir die oog is wanneer hy in die lewensgrootte peperpot dans,” verklap die duo.

Dis modern, abstrak, smooth en iets uit die boks. Dis ’n skaakspel tussen sout vs. peper en elkeen in sy eie spesery boks vasgevang, maar wanneer DJ Skeady intree – wat ook dié liedjie sowel as Tennis Tune produce het – meng hy die twee wêrelde, spice hy die liedjie verder op en smelt die smake saam om ’n onafskeidbare samehorige ‘dream team mean machine’ te word.

“Ons het saam aan die konsep van die video gewerk, so hierdie hele song, konsep, video, letterlik alles verbonde aan Sout & Peper was ’n gelyke spanpoging tussen Sout (Flooze) & Peper (Dirk) om die beste na vore te bring met ons dansgedrewe oplvolg lied,” sê Dirk en Die Flooze.

Kyk die musiekvideo hier:

En nes die lirieke lui: “Jy is die Sout. Jy is die Peper. Ek laat dit brand. Ek maak dit beter.” gaan dié liedjie ook jou lewe beter maak.

Sout & Peper is eersdaags ook op Dirk van der Westhuizen se nuwe album beskikbaar.