Samantha Leonard se debuut-album is hier!

FOTO: Fathom Media

Die gewilde sangeres, Samantha Leonard (derde in The Voice SA 2017) het pas haar debuut-album, ’n Duisend Keuses, vrygestel.

“My doel met die album is dat my liedjies mense daarbuite sal inspireer en dat dit ’n verskil in hulle lewens sal maak. Tweedens, sal dit absoluut wonderlik wees as my album sukses behaal in die musiekbedryf, sodat ek kan aanhou musiek maak en doen waarvoor ek so lief is, en dit is sing,” vertel Samantha.

Samantha het kragte saamgesnoer met die talentvolle Vaughan Gardiner en Hugo Ludik van Muse Productions. Sy het sewe liedjies geskryf, terwyl vier van die liedjies deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf is en dan is daar ook ’n lekker dans-nommer deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik.

“Ek wou graag iets van alles hê toe dit by die liedjie-keuses gekom het elkeen moes ’n storie vertel van my eie lewenservarings. Daar is ’n hele paar asemrowende ballades wat aan die hartsnare sal raak, lekker dans- nommers en ook ’n bietjie rock wat die album ’n ‘edge’ gee. Dit is vir my moeilik om tussen al die liedjies te kies, want elkeen is vir my uniek en spesiaal, maar ek dink my eerste enkelsnit (en ook die titel van die album) ’n Duisend Keuses, bly my nommer een, omdat dit my mees ware en persoonlike liedjie op die album is,” voeg Samantha by.

LEES OOK: Samantha Leonard reik treffende enkelsnit uit

Samantha is ook bevoorreg genoeg om hierdie jaar by die kykNET Ghoema toekennings-geleentheid op 17 April 2019 by die Sun Arena in Pretoria op te tree en verder is sy gereed om haar album met almal te deel terwyl sy landwyd gaan toer.

“Ek het een ongelooflike span waarmee ek die voorreg het om mee saam te werk – Starburst Promotions wat al my publisiteit behartig, my bestuurder, Chantal Kruger, my ouers Lyell en Lourinda Leonard en al my familie en vriende. Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie,” sê Samantha.

Samantha Leonard se volle album is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Luister die album hier op Apple Music: