Sumarie Jordaan: ‘Ons is ook gewone mense’

FOTO: Verskaf

Die Hemiplegies serebraal gestremde, Sumarie Jordaan, wat verlede jaar haar skoolloopbaan voltooi het, se eerste enkelsnit is onlangs uitgereik en sy hoop om mense sienings oor haar en ander soos sy te verander.

Verander jou siening kom uit Sumarie se eie pen en sy wil ’n verskil maak met die liedjie. “Dit was altyd vir my moeilik om te sien hoe mense my sussie aan kyk as ons stap in die publiek tot ek besef het hulle het eintlik so baie liefde en omgee hulle is net nie seker hoe om dit vir ons as ‘differently abled’ mense te gee nie. Ek wil vir mense wys hoe hulle dit vir ons kan gee en dat ons dieselfde is. Ons doen net dinge bietjie anders. Dit was die inspirasie,” vertel Sumarie.

Sumarie is in Johannesburg gebore as ’n tweeling. Sy en haar sussie is drie maande te vroeg gebore en Sumarie is twee keer doodverklaar in die proses. “Ek is Hemiplegies serebraal gestremd aan my linkerkant wat beteken my linkerkant is swakker as my regterkant en dan het ek ook gedeeltelike gehoorverlies. 80% in my linkerkant en 20% in my regterkant. Ek dra gehoorstukkies,” verduidelik die sangeres.

’n Musiekvideo vir haar enkelsnit is ook onlangs uitgereik. Sumarie het vir dié video, wat deur Pierre Rossouw opgeneem en vervaardig is, self die storielyn geskryf en vertel: “Ek wou vir mense wys dat ons ook talente het en hoe ons dinge bietjie anders doen deur vier verskillende different abilities uit te beeld.”

Kyk die video hier:

Vra jy haar vir raad antwoord sy graag: “My raad aan mense wat voel hulle kan nie meer nie, is dat baie keer raak jy moedeloos omdat jy miskien ’n droom voor jou sien en jy’s so naby maar jy kom net nie daar uit nie. God het ’n droom in jou hart geplaas vir ’n rede sodat jy jy kan wees. Die lewe is ’n toets en God toets of jy hom vertrou. Hy sal jou nooit iets gee wat hy weet jy’s nog nie 110% reg vir dit nie. HOU AAN! Jy gaan daar kom. Elke dag is nader en jy is spesiaal en uniek. Leef VOLUIT want JY KAN!”

Sumarie se dagboek is tans propvol. Behalwe vir musiek maak en mense inspireer met haar storie, skuif sy ook daagliks agter die boek in en studeer tans bemarking.

En as Verander jou siening enigsins ’n aanduiding is van wat verder verwag kan word, is aanhangers in vir ’n ding. “Ek is reeds besig om aan ’n album te skryf. Hopelik sien mense saam met my uit. Nog ’n groot droom van my is om ’n realiteit reeks te begin,” verklap sy.