Johan Stemmet groet Noot vir Noot

FOTO: YouTube skermgreep

Johan Stemmet, die sjarmante aanbieder van die immergroen musiekspeletjiesprogram, Noot vir Noot groet dié program na 29 jaar.

Volgens ’n berig wat op Netwerk24 verskyn het, sal Johan hierdie Donderdag om 19:00 op SABC 2 vir die laaste keer as aanbieder te sien wees. Hy was die aanbieder van Noot vir Noot vir meer as 43 seisoene en 700 episodes.

Dié 66-jarige TV-aanbieder beloof om die einde van sy pad met die program op ’n “hoë noot af te sluit”.

“Na 28 jaar wat ek hierdie program aangebied het, voel ek dit gaan een van die mees opwindende finale-episodes wees,” het Johan op sy Facebook-blad geskryf.

Johan, wat veral bekend is vir sy bont baadjies op die lug, is in 2018 met ’n Lewenslange bydrae-toekenning by die SAFTA’s vereer.

Alhoewel die sanger en aanbieder die program verlaat, kan kykers uitsien na ’n nuwe aanbieder en splinternuwe formaat.

Die eerste episode van Noot vir Noot is op 27 Julie 1991 uitgesaai, wat dit een van die langste speletjiesprogram op TV maak.