Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Alternatief is Groot: Die ‘jool-jol’ van Pretoria

FOTO: Twitter, @AfrIsGroot

Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Jan Blohm, Straatligkinders en Jack Parow gaan eersdaags saam in Pretoria op die verhoog te sien wees vir Alternatief is Groot.

Dié jongste projek deur die Coleske-groep, wat bekend is vir suksesvolle projekte soos Afrikaans is Groot en Classics, gaan op Loftus Versveld se D-veld aangebied word ná Saterdag, 16 Februarie se Superrugby-wedstryd tussen die Blou Bulle en die Stormers.

“Ons dink daar’s ’n groot behoefte vir ’n produksie van uitstaande gehalte onder aanhangers van hierdie musiek-genre. Ons wil ook alternatiewe kunstenaars die platform bied om hul staal te wys,” het Arnold Coleske, uitvoerende vervaardiger van die konsert gesê.

Pierre Greeff, van Die Heuwels Fantasties, is van mening dat dit nie net die alternatiewes en jonges van gees is wat daar gaan opdaag nie. Na die afskaffing van die Universiteit van Pretoria se jool, dink hy hierdie is die perfekte partytjie vir die studente.

“Dis lekker dat Alternatief is Groot jool na Pretoria bring. Potch was vir te lank die enigste jool-jol,” vertel hy.

Die konsert word aangebied deur die musiekstroom-app, JOOX, met die ondersteuning van We Buy Cars, Beeld en VIA (DStv-kanaal 147).

Die konsert begin om 19:30 en sal tot 23:30 duur. Slegs 1000 “early bird-kaartjies” is nóú teen R120 beskikbaar. Daarna sal dit R195 per persoon kos.

Diegene wat die rugbywedstryd tussen die Blou Bulle en Stormers ook wil kyk, kan die “Gig en Game”-kaartjie vir R245 oorweeg.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Klik hier om aanlyn kaartjies te koop.