Maruchè strewe om met harde werk drome te verwesenlik

FOTO: Verskaf

Die jong sangeres, Maruchè, se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, Drome Word Waar, is pas bekendgestel en is ’n motivering vir luisteraars om hul drome na te jaag. Dié enkelsnit is uit die pen van die veelbekroonde liedjieskrywer, Vaughan Gardiner, wat ook verantwoordelik is vir die vervaardiging daarvan.

“Daar is soveel boodskappe wat in die liedjie en video vervat is, maar die een wat vir my uitstaan is die feit dat mens vir jou drome moet baklei aangesien dit nie net sommer in jou skoot sal val nie. Jou drome kan waar word indien jy bereid is om die storms en struikelblokke wat daarmee saam kom te trotseer,” vertel Maruchè.

KLIK HIER EN LAAI DROME WORD WAAR DIGITAAL AF

FOTO’S: Verskaf

Die 14-jarige Maruchè het ook groot drome vir die toekoms. “Ek het nogal baie drome, een van hulle is om in Hollywood te sing en dan natuurlik by Afrikaans is Groot op te tree. Hierdie is groot drome en ek is bereid om hard te werk om dit te verwesenlik,” voeg sy by.

Maruchè het reeds bekendheid met haar sang verwerf en het onlangs saam met die sang-duo, DZL, die enkelsnit en musiekvideo Wees Iemand opgeneem. Die liedjie is deur Johan Oberholzer geskryf en gebruik in ’n boeliebewusmakings-veldtog.

Die idee van ’n boelieprojek het in 2014 reeds by Maruchè posgevat nadat sy op ’n jong ouderdom aan boelies blootgestel is. Die feit dat sy in die vermaaklikheids bedryf begin uitblink het, het veral hiertoe bygedra. “Ek het elke keer net weer opgestaan en besluit hulle gaan my nie onder kry nie. Ek gaan net ’n sterker weergawe van myself word. Ek wil graag vanjaar hierdie boelieprojek aanpak omdat ék self aan boelies blootgestel word en ook kinders rondom my sien wat deur dieselfde mishandeling gaan. Ons ouers is nie altyd daar om ons in watte toe te draai nie en daarom moet ons vir ons self kan begin opstaan. Ons moet leer om ‘Boelie Bestand’ te word,” vertel Maruchè.

Sy is baie opgewonde oor haar nuwe enkelsnit en musiekvideo wat binnekort ook op SABC 2 se Kliphard uitgesaai sal word. “Ons het die video gebruik om uit te beeld hoe die lewe soms struikelblokke in jou pad gooi maar as jy uithouvermoe het kan jy sukses behaal.”

Kyk die musiekvideo eksklusief hier:

 
Musiek is sedert ’n jong ouderdom in Maruchè Smith se bloed. Sy sing al vandat sy 6-jaar oud is en ontvang ook professionele-afrigting vir beide sang en drama. Vir die afgelope sewejaar neem sy ook graag deel aan drama- en sangitems by kunswedstryde soos Pretoria Eisteddfod, Noorderkruin Kunstefees en Pretoria Kunswedstryd waar sy in verskeie items kategoriewenner was en het al verskeie trofees verower. Maruchè is vir vyf agtereenvolgende jare Algehele Kultuurleerder in haar alma mater, L/S Danie Malan in Pretoria aangewys.

Een van die hoogtepunte in haar sangloopbaan is toe sy in 2013 die landwye Liefste Kayla-musiekvideo kompetisie gewen het wat deur Mozi Rekords en kykNET aangebied is. Maruchè tree gereeld op by feeste en geleenthede en het ook in 2015 by KKNK op Oudtshoorn opgetree. Sy het ook in 2015 opgetree by H/S Pretoria-Noord se karnavaal in Elvis Blue se openingsvertoning.

Haar eerste album, Superster, is in 2014 vrygestel en die gelyknamige musiekvideo verskyn op YouTube en word ook gereeld op kykNET NOU! DStv-kanaal 146 gebeeldsend. Die Palm van my Hand, is in Julie 2016 vrygestel asook die musiekvideo daarvan wat op YouTube beskikbaar is. Haar tweede enkelsnit Wees Iemand geniet steeds speeltyd op verskeie radiostasies en word gebeeldsend op kykNET NOU! DStv-kanaal 146! Maruchè geniet dit om voor mense op te tree en ’n blink toekoms wink beslis vir haar.