FOTO: Fathom Media
Die bekroonde kletsrymer, Early B, is nie net veelsydig in sy aanslag nie, maar het ook die vermoë om luisteraars se emosies te prikkel – of dit nou is met sy vlymskerp humor of sielvolle sosiale kommentaar.
Met sy nuwe enkelsnit, Ben Ten, wys die kunstenaar sy prettige kant met stoute tong-in-die-kies lirieke en ’n interessante funk-kletsrym-wysie wat viervoet in jou kop vassteek.
Luister hier na ’n voorskou:
“Ben Ten is ’n term wat ons in PE gebruik vir ’n man wat daarvan hou om met vroue uit te gaan wat baie ouer is as hy. Ek het die liedjie self geskryf met die doel om ’n storie te vertel wat aanhangers sal laat glimlag en saamsing,” vertel hy.
“Dit gaan oor ’n ou wat by sy vriendin gaan kuier, wat ewe skielik nie meer by haar ma bly nie, en dan besef dat die antie oë het vir hom. Wat verder gebeur, word in die res van die snit verklap en sal almal lekker laat giggel.” ’n Musiekvideo van die treffer, waaroor hy nog nie te veel wil verklap nie, word ook eersdaags bekendgestel.
Die enkelsnit is die tweede vrystelling vanaf sy debuutalbum, Aangename Kennis, wat op 10 Augustus 2018 uitgereik word. Om stories te vertel in Afrikaans, met ’n unieke PE-kletsrymaanslag, is die hoofdoel van Early B se eerste CD wat met agtien oorspronklike werke spog – wat almal uit sy eie pen kom.
KLIK HIER OM DIE ALBUM VOORAF TE BESTEL OP ITUNES
“Daar is iets vir almal om mee te vereenselwig. Liedjies wat mense sal laat lag, inspireer en motiveer. Ek het snitte gekies wat verskillende musiekstyle met kletsrym kombineer, ’n sterk boodskap dra, mense aanspoor om pret te hê en stories vertel, wat soos ’n kortfilm in die geestesoog moet afspeel,” verklap die musikant.
Alhoewel hy nie ’n gunsteling wil uitsonder nie, meen hy dat Ben Ten beslis gewild gaan wees en meen hy dat dit pret was om saam met kunstenaars soos Jack Parow, ADAM en Emo Adams te werk.
Early B, oftewel Earl Swartz, is een van twee kinders en beskryf homself as meer van ’n introvert as ’n ekstrovert. Hy het in ’n huis grootgeword waar sy pa gereeld vir hulle op sy mondfluitjie liedjies gespeel het en het ook baie blootstelling aan musiek gekry in die kerk. Van kleins af, het hy daarvan gehou om sy vriende te vermaak en Amerikaanse kletsrymers na te boots. Hy was vir sewe jaar deel van die groep Earl & Agemi waarna hy sy loopbaan as solo-kunstenaar begin het. Een van die hoogtepunte van sy loopbaan is dat hy onlangs ’n platekontrak geteken het met Universal Music.
“Afrikaanse Hip-Hop was nog altyd my gunsteling-musiekstyl, omdat dit ’n mens kans gee om rou uiting te gee aan jou gevoelens. Ek is ontsettend dankbaar vir die gawe waarmee die Here my geseën het en sal altyd daarop bou na die beste van my vermoë,” sê hy.
Die kunstenaar (29) het, oor die afgelope nege jaar, ’n gereelde gesig geword by van die land se grootste feeste en konserte, soos die KKNK. Hy het ook al saam met groot name in die bedryf gewerk, waaronder die Grammy-bekroonde musiekvervaardiger, Darryl Torr, en plaaslike talent soos Emo Adams, HemelBesem en Pierre Rossouw.
Hy is veral bekend vir sy treffer, Cerebellum, wat nie net aan hom ’n Ghoema-toekenning besorg het vir Beste Hip-Hop-liedjie in 2017 nie, maar ook verskeie weke bo-aan die kletsrymtreffersparades van verskeie groot radiostasies gepronk het.