Vandag se vroue is te gereeld so totaal oorweldig deur dinge om te doen en ander om tevrede te stel, dat hulle te min tyd neem om na hulself om te sien en hulle werklike waarde en potensiaal besef.
Die polsende nuwe enkelsnit van Elizma Theron, Marilyn Monroe, is oorgehaal om vroue van oraloor tot stilstand te bring, deeglik in die spieël te laat kyk, die vonk binne hulself te laat herontdek en met hernude lewenslus die wêreld op sy kop te draai!
KLIK HIER OM DIE LIEDJIE DIGITAAL AAN TE SKAF
Dis ’n energiebelaaide, pop-rock snit met lewenslustige lirieke, seepgladde harmonieë, sterk elektriese kitaar tema en aansteeklike ritmes wat jou, hakskoene en al, op maat van die musiek sal laat laat saamdans – propvol selfvertroue en reg om die dorp behoorlik rooi te verf!
Oor die snit sê Elizma: “Marilyn Monroe ’n liedjie is vir elke vrou, ongeag van hoe jy lyk, wat jou agtergrond is, hoe oud of jonk jy is, of die grootte van jou klere.”
“Marilyn Monroe was die toonbeeld van skoonheid en vrouwees. Met hierdie liedjie wil ek elke vrou herinner dat jy ’n Marilyn Monroe in jou het en dat dit belangriker is dat jý haar in jouself raaksien as dat die wêreld haar raaksien. Skoonheid straal van binne af buite; jy moet net jou innerlike Marilyn ’n bietjie loslaat!”
Vroue wat baie prominente rolle in Elizma se lewe vervul was ook betrokke by die musiekvideo. “Dit was vir my ’n baie spesiale video,” sê sy.
“Die feit dat my ma, my sussie en my vriendin saam met my daarin speel maak dit iets besonders, iets wat ek altyd sal koester. Dit was ongelooflik lekker om dit met hulle te deel. Daar is baie gelag, veral toe my ma soos ’n wafferse rockster die baskitaar moes speel!”
Dis juis waaroor hierdie kragsnit gaan: die ster wat binne jou skyn wat na buite straal. Soos die lirieke tereg sê: “Jy’s ’n vrou en jy weet daar’s ’n Marilyn Monroe wat wag in jou!”
Kyk die musiekvideo hier: